DIE HERDEFINIËRING VAN DIE ROL VAN PREDIKANTE EN LIDMATE
Januarie 2009
1. INLEIDING
Binne die familie van NG Kerke in KZN ontstaan al hoe meer finansiële tekorte wat die bediening van gemeentes ernstig knou. Teen hierdie agtergrond het die NG Kerk, VGKSA en die RCA van die provinsie ernstig besin oor huidige bedieningspraktyke.
Dit is duidelik dat huidige bedieningstrukture net te duur geword het vir armer gemeentes in KZN. ‘n Totale kopskuif is nodig om die beskikbare hulpbronne so aan te wend dat die bediening nie net sal voortgaan nie, maar sal uitbrei. Die Koninkryk van God moet groei in die wêreld en in KZN.
Teen hierdie agtergrond is verskeie werkswinkels reeds gehou – die drie kerke saam asook op hulle eie. Die bedieningsmodel is bespreek, selfs op sinodevergaderings. Dit is verder aangepas en in verskeie kringe aanvaar.
Die model fokus op die herdefiniëring van die rol van predikante en lidmate in die kerk se uitreik met die evangelie na die wêreld. Dit is dus ook ‘n model vir missionêre uitbreiding. Hierdie model word gesien as ‘n Bybelse model en kan selfs genoem word ‘n apostoliese bediening. Die apostels is uitgestuur om presies te doen wat hierdie model van predikante verwag, nl om die evangelie te verkondig en dissipels te maak, dit is mense toe te rus vir die bediening.
In hierdie model val die klem op die bediening van elke gelowige. Die uitgangspunt is Ef 4:11 en 12. Predikante moet gelowiges toerus om die bediening van die gemeente te doen. Die bediening van die gemeente is in die eerste plek die roeping van die lidmate. Húlle moet die bedieningswerk van die gemeente behartig. ‘n Groot kopskuif is dus nodig weg van die idee dat die bediening hoofsaaklik deur predikante gedoen word. Lidmate moet weer hulle regmatige plek in die bediening van elke gemeente inneem. Hoogs opgeleide predikante se rol moet dus al meer verander na dié van toerusters en mentors.
2. UITDAGINGS
Demografiese verskuiwings en finansiële tekorte skep sekere unieke uitdagings vir die NG Kerk familie in KZN. Sommige van hierdie uitdagings is bedreiginge en ander weer geleenthede. Die bedreiginge kan meestal verander word in geleenthede as die groter prentjie in ag geneem word.
2.1 Demografiese skuiwe het ’n groot impak op die kerk in KZN. Alhoewel daar ’n verstedelikingsproses is, woon byna 50% van KZN se inwoners nog op die platteland. Die plattelandse bevolking is meestal baie arm. In die stede ontstaan ’n al hoe groterwordende middelklas.
2.2 Die VGKSA in KZN is meestal ’n plattelandse kerk en is nie gerat vir die opkomende middelklas nie. Die grootste struikelblok is die gebrek aan kapasiteit ten opsigte van mannekrag. In die NG Kerk trek lidmate al hoe meer weg uit die dorpe. Gemeentes word al hoe kleiner en kan nie meer ’n eie predikant bekostig nie. In die stede en groter dorpe moet een predikant al hoe meer lidmate bedien, wat ’n onbegonne taak is met die huidige bedieningsmodel.
2.3 Die opleiding van predikante en lidmate is van die grootste belang. Alle lidmate, kinders van God, moet in staat wees om die evangelie van verslossing aan ongelowiges te bedien. Lidmate moet al meer in staat gestel word om die take van die bediening te doen, soos prediking, pastoraat, leierskap, jeugwerk, groepwerk, ens. Hiervoor moet doelbewuste en volhoubare opleiding verskaf word.
2.4 Groter klem moet gelê word op gesinsbediening. Mans moet weer hul regmatige rol inneem. Veral in die VGKSA bestaan baie gemeentes meestal uit vrouens en kinders. Ook in die NG Kerk is vrouens al meer prominent in gemeentes vanweë die besige programme van mans.
2.5 Skoolkinders is ’n balangrike deel van baie gemeentes se bediening. Die uitdaging is om hierdie kinders ingeskakel te hou by ’n kerk wanneer hulle na skool verskuif na die stede, ander provinsies of selfs na die buiteland.
2.6 Binne die groeiende middelklas is daar al meer huweliks- en gesinsprobleme. Die kerk moet die kapasiteit en kennis hê om aan hierdie behoeftes aandag te gee.
2.7 In ons gemeenskap is daar ’n gebrek aan rolmodelle met christelike waardes. Die jeug en baie ouer mense behoort te kan identifiseer met kerke waar goeie christelike waardes deur rolmodelle uitgeleef word.
2.8 Gemeentes behoort al meer ’n kopskuif te maak weg van ’n oorlewingsbestaan na ’n missionêre bestaanswyse. Gemeentes moet uitreik na die gemeenskap se nood.
2.9 Daar is baie afgetrede lidmate met gespesialiseerde vaardighede wat deur die kerk gebruik kan word. Hierdie vaardighede moet aangewend word tot voordeel van hulle wat in nood verkeer.
2.10 Die groot kultuur- en taalverskille in KZN is ’n groot uitdaging. Dit maak multi-kulturele bedieninge baie moeilik. Hierdie struikelblok moet op ’n kreatiewe manier oorkom word.
Met ’n nuwe bedieningsmodel en deur hande te vat, is ons oortuig dat bogenoemde uitdagings en bedreiginge verander kan word in wonderlike geleenthede vir die Koninkryk van God.
3. OPLOSSING: APOSTOLIESE BEDIENINGSMODEL
’n Geïntegreerde oplossing op drie vlakke is ontwikkel vir die NG Kerk familie in KZN. Alhoewel nie totaal verskillend van die huidige model nie, is hierdie wel ’n ander bedieningsmodel. Dit vra vir ’n kopskuif binne die gereformeerde teologie, nie vir ’n ander teologie nie. In hierdie nuwe model vorm die drie vlakke drie fokusareas wat ons dringende aandag nodig het.
3.1 Opgeleide gelowiges/leiers
Een van die identifiserende eienskappe van die NG Kerk familie is haar hoogs opgeleide predikante/evangeliste. Min ander denominasies het dieselfde vlak van teologiese en Bybelse opleiding vir hulle leiers. Dit is ononderhandelbaar vir die kerk, ook in die nuwe model.
Hierdie hoogsopgeleide leiers maak egter die kerklike strukture baie duur, veral binne die arm gemeenskappe van KwaZulu-Natal.
In die nuwe model word voorgestel dat gelowiges/leiers vanuit die gemeentes opgelei word vir gespesialiseerde bedieninge. Die rol van die hoogsopgeleide predikante/evangeliste verander. In plaas daarvan dat hulle self die meeste bedieningstake behartig, word hulle nou die opleiers/mentors van die gelowiges/leiers. Gelowiges word vanuit die gemeente geïdentifiseer en word goed opgelei. Elke gelowige spesialiseer in slegs een of twee aspekte van die bediening volgens sy/haar geestelik gawes. Sommige sal opgelei word as predikers, ander as pastorale werkers, ander in leierskap/gemeentebou, ander as jeugwerkers, ander as evangeliste/ sendelinge, ander as kleingroepleiers, ens. Die verskillende opgeleide gelowiges/leiers in die gemeente vorm saam ’n bedieningspan wat al die bedieningstake behartig wat tans deur ’n predikant gedoen word. In plaas van een opgeleide predikant wat die meeste van die werk moet doen, is daar nou ’n opgeleide span wat meer effektief kan bedien.
Die opleiding moet op plaaslike vlak gedoen word deur die hoogsopgeleide predikante/evangeliste volgens gestandaardiseerde opleidingsmateriaal. Insette kan vanaf die teologiese fakulteite en ander opleidingsinstansies verkry word. Die opleiding kan gedoen word deur bywoningskursusse, werkswinkels, korrespondensie of via die internet, of ’n kombinasie van hierdie metodes.
’n Aanvanklike kursus word deurloop waarna die kandidate gelegitimeer word deur die ring vir die gespesialiseerde bediening binne die ring waar die gelowige opgelei is. Die ring legitimeer iemand nadat hy/sy die opleiding suksesvol deurloop het en op aanbeveling van die betrokke kerkraad. Op hierdie wyse word verseker dat die bediening steeds op ’n hoë vlak gedoen word.
Dit is belangrik dat elke gelowige van die begin van sy/haar opleiding gementor word deur ’n hoogsopgeleide predikant. Na die aanvanklike kursus moet die mentorsverhouding voortgesit word. Elke opgeleide gelowige werk nou saam met sy/haar mentor.
Na die aanvanklike opleiding is die deelname aan voortgesette opleiding van die grootste belang. Met die oog op verdere opleiding is leeswerk, bywoon van seminare en verdere kursusse belangrik. Die plaaslike hoogsopgeleide predikante moet verantwoordelik wees om hierdie voortgesette opleiding te doen. Provinsale- of streekswerkswinkels en konferensies kan aanvullend gehou word. Netwerke van alle opgeleide gelowiges volgens hulle spesialis bedieningsareas kan gevorm word.
Kerkrade identifiseer en stuur gelowiges vir opleiding. Hulle maak seker dat die betrokke kandidaat oor die nodige gawes en persoonlikheid beskik vir die gespesialiseerde bediening waarvoor hy/sy opgelei word. Die kerkraad bevestig die gelegitimeerde in die amp van ouderling/diaken vir sy/haar gespesialiseerde diens. Die kerkraad besluit oor hoe elkeen binne die gemeente aangewend word. Die opgeleide gelowiges/leiers tree op as onbetaalde (tentmakers) leiers binne die plaaslike gemeente. Die kerkraad betaal vir hulle aanvanklike en voortgesette opleiding waar moontlik. Waar gemeentes dit nie kan bekostig nie, kan hierdie opleiding deur die ring of sinode gesubsidieer word.
Die aanvanklike en voortgesette opleiding word gedoen deur predikante wat vir die doel deur ringe en sinodes opgelei word. Predikante vorm ’n netwerk om mekaar deurlopend te ondersteun en op te lei. Predikante fokus op die opleiding en mentorskap van die gelowiges en nie op die bediening van die plaaslike lidmate soos in die ou model nie. ’n Predikant se fokus is die bemagtiging van gelowiges/leiers vir hulle bediening in die gemeente en gemeenskap.
Die hoogsopgeleide predikante word beroep en betaal deur die ring (of deur groter gemeentes). Genoeg gemeentes moet saam gegroepeer word om die salaris van die predikante te kan betaal. Armer gemeenskappe kan gesubsidieer word. Predikante spesialiseer ook binne die ringsgebied volgens hulle gawes, bv prediking, pastoraat, ens. Hierdie model sal dus meer koste-effektief wees as die huidige model waar elke gemeente sy eie predikant het. Wanneer ’n ring te klein raak om sy predikante te onderhou, kan die sinode die grense verander sonder die krisis wat onstaan wanneer ’n gemeente te klein word om hulle predikant te betaal.
3.2 Kleiner gemeentes
Die nuwe model maak voorsiening vir kleiner eerder as groter gemeentes. Wat tans in die VGKSA as ’n wyk met eie bedieningspunt gesien word, of in die NG Kerk as ’n klein onvolhoubare gemeente of buitepos, of in die RCA as ‘mission’ (sending), kan maklik ontwikkel word as ’n klein interafhanklike gemeente.
Tans sien baie van hierdie kleiner plaaslike eenhede hulleself nie as volwaardige kerke nie. Hulle voel net deel van die kerk as hulle saam met die groter gemeente vergader. Dit is een van die redes waarom hierdie kleiner entiteite nooit op hulle eie met die evangelie uitreik na hulle gemeenskap nie. In die huidige model is hulle baie na binne gekeer en fokus op oorlewing. In die nuwe model behoort elke gemeente, hoe klein ookal, ’n uitreikprojek in hulle eie gemeenskap te hê.
Die nuwe model ontwikkel dus ’n interafhanklike plaaslike gemeente wat in sy wese gestuurd is. Uitreike word gedoen deur die plaaslike opgeleide gelowiges onder mentorskap van ’n hoogsopgeleide predikant. Op hierdie manier brei die plaaslike gemeente uit en word selfonderhoudend en interafhanklik.
Sulke kleiner plaaslike gemeentes bestaan binne dieselfde kultuurgroep of as interkulturele gemeentes volgens die plaaslike behoeftes.
’n Kleiner gemeente het nie duur geboue nodig nie en kan selfs in bestaande lokale binne die gemeenskap bymekaarkom.
3.3 Vennootskappe
Die riglyne vir vennootskappe oor kerkgrense heen soos reeds deur ringe en sinodes goedgekeur is, kan met groot sukses op die apostoliese bedieningsmodel toegepas word. Daar is drie vlakke van vennootskappe:
3.3.1 Primêre vennootskappe
Dit is waar twee gemeentes, kerke of ringe in ’n gelyke vennootskap saamwerk. Die vennootskap mag verskillende vlakke van samewerking, onderlinge dienslewering of ondersteuning van mekaar hê.
3.3.2 Sekondêre vennootskappe
Dikwels benodig bogenoemde vennootskappe tussen kerklike strukture meer ondersteuning en kapasiteit van ander kerklike strukture. In sulke gevalle kan die primêre struktuur ’n band vorm met ander strukture op ’n tweede vlak. Hierdie sekondêre vennootskappe kan meer informeel wees of kan deur formele bindende ooreenkomste gereël word, afhangende van die spesifieke situasie.
3.3.3 Ringe
Ringe sal ’n groot rol speel in die nuwe model. Elke ring behoort ten minste twee of meer hoogsopgeleide predikante te hê om die opgeleide gelowiges/leiers in die plaaslike gemeentes toe te rus, te ondersteun, te monitor en te mentor.
Om die kerklike bande te verstewig behoort die kleiner gemeentes van tyd tot tyd saam te vergader. Christelike feesdae kan goeie geleenthede bied vir groter byeenkomste.


Bedieningsmodel
4. IMPLEMENTERING
Na baie gesprek en aanpassings van die model, behoort dit nou redelik spoedeisend geïmplimenteer te word. Die volgende sake is belangrik:
4.1 Opleidingsmateriaal moet beoordeel en gestandaardiseer word. Bestaande hoogsopgeleide predikante moet geïdentifiseer word om as spesialiste op die verskillende terreine as opleiers te dien. Waar nodig moet hulle verder opgelei word. Hulle moet ‘n werkgroep vorm om die materiaal te ontwikkel en te standaardiseer.
4.2 Die model moet wyd binne die kerke bespreek word. Werkswinkels moet met predikante en lidmate gehou word. Die model moet verduidelik word en so veel as moontlik mense moet aan boord gebring word. Predikante en lidmate benodig ‘n kopskuif. Dit sal nie vanself gebeur nie. Baie energie moet deurlopend hiervoor ingesit word.
4.3 Loodsprojekte moet begin word waar die nood die hoogste is, waarskynlik met die opleiding van predikers en pastorale werkers. Aanvanklik kan die opleiding deur die sinode geïnisieer en gedoen word.
4.4 Die implementering sal geleidelik plaasvind. Waar predikante in die model inkoop, kan hulle heropgelei word as opleiers en mentors. Daarna kan hulle in hulle eie omgewing gelowiges/leiers oplei. Wanneer die ring gereed is, kan hulle predikante beroep met opdrag opleiding en mentorskap. Waar vakatures in gemeentes ontstaan, kan die gemeente onder leiding van die ring besluit of hulle deel van die nuwe model wil word. As dit ‘n groot gemeente is, kan hulle onderverdeel in kleiner geografiese gemeentes. Bestaande kleiner eenhede (wyke, buiteposte, sendinge) kan afstig volgens bestaande kerkordes.
4.5 Sinodes en ringe sal ‘n belangrike leierskapsrol moet speel om die model te implimenteer. Daarom moet die model ook op leierskapsvlak bespreek en ondersteun word.
4.6 Die kerkordes van die verskillende kerke moet aangepas word om die model te akkommodeer. Aandag moet gegee word aan die ampte, bediening van sakramente en dienswerk van gelowiges. Dit is veral belangrik dat opgeleide gelowiges toegelaat moet word om sakramente te bedien.
5. TEN SLOTTE
Dit het tyd geword dat die kerk weer reformeer. Die tekort aan hulpbronne gaan dit waarskynlik bespoedig, maar die motivering vir verandering lê op ‘n dieper Bybelse vlak. Die eerste reformasie het die Bybel teruggegee aan die kerk. Die tweede reformasie moet die bediening teruggee aan die lidmate.
Ons gebed is dat hierdie bedieningsmodel daartoe sal bydra dat die bediening van die kerk meer effektief sal wees en dat die kerk sy opdrag om die evangelie aan die hele wêreld te bring beter sal uitvoer.
Soli Deo Gloria.
Tags: Bedieningsmodel, KZN, NG Kerk familie
1 November 2008 at 5:30 nm |
As jy wil kommentaar lewer, klik op “comment” en skryf jou kommentaar.
4 November 2008 at 4:43 nm |
Ben, geluk en mag ons lekker saampraat! Een van die uitdagings gaan wees om die gedagte na gemeentes te neem. ‘n Ander gaan wees om ons gemeentes se koppe/harte oor kerkwees te verChristelik! (Maw dat ons kerke begin sien as liggaam van Christus!) Nog ‘n uitdaging gaan wees om dominees se bedieningsverwagting te Kersten! Hiersonder hoes ons teen die wind! Maar die kerk is die Here s’n en ek weet Hy is oppad met ons na ‘n nuwe bedeling.
18 November 2008 at 8:34 vm |
Benna, dis ‘n mooi stuk en stem saam met Lourens…maar ek weet net: ons moet dit doen in ons Ring is dit belangrik. Wanneer begin ons?
Ferdinand
30 November 2008 at 1:48 nm |
Ben Ek stem saam dat die ‘n goeie stuk is. Ek volhard egter met my opmerkings aan jou per Epos dat ek die woord missionaal of gestuurd sou verkies bo die woord sendinggerig. Eersgenoemde twee terme is meer holisties van aard as net die woord sending. Miskien is dit waarom dit nodig is om die woord sending met missionêr gerig te omskryf. Met missionaal (die term wat ek vermoed algemeen gebruik word “missional”) is meer as net die ou terminologie van sending as iets wat jy aan ander doen op die spel. Missionaal het te make met die kerk se gestuurdheid. Die kerk kan nie maar net ‘n sendingprojek of meer he nie. Ek weet dit is nie wat jy bedoel nie, maar dankie vir die kans om kommentaar hier te lewer en dankie dat jy die konsep van die apostoliese bedeiningsmoedel verder verfyn het. Groete Mike
4 December 2008 at 7:50 vm |
Ben, net vir volledigheid. In aansluiting by my vorige opmerkings. Dalk kan die derde paragraaf (by kleiner gemeente) so lees:
Voorstel: Die nuwe model ontwikkel dus ‘n interafhanklike plaaslike gemeente wat misionaal is. Uitreike word gedoen deur die plaaslike opgeleide gelowiges onder mentorskap van ‘n hoogsopgeleide predikant. Op hierdie manier brei die plaaslike gemeente uit en word selfonderhoudend en interafhanklik.
Groete Mike
4 December 2008 at 8:24 vm |
Ben, na gesprek met Lourens oor die feit dat sending en missionaal in Zulu dieselfde vertaal sou word, sou ek graag die eerste sin wou verander om te lees:
Die nuwe model ontwikkel dus ‘n interafhanklike plaaslike gemeente wat in sy wese gestuurd is.
Groete Mike
4 December 2008 at 9:04 vm |
Mike, dankie vir jou kommentaar. Ek het die model dienooreenkomstig verander.
22 February 2009 at 3:21 nm |
Hi Ben
Het vandag [ 22 Feb] jou artikel in die kerkbode [ 6 Feb] gelees en toe ingeskakel op jou blog.Ek is baie opgewonde oor dit wat julle alreeds daar in KZN doen. Hier by ons in Namibie is dit seker een van die vinnigste groeiende behoeftes vanwee kleiner wordende gemeentes en veral plattelandse gemeentes wat al jare voort sukkel net om tog te kan bestaan.
In Walvisbaai is ons drie NG gemeentes maar vanwee gebeure uit die verlede worstel ons nou al 5jaar om saam te werk met die oog opeenwording. Ons eie gemeente [ Wvb -Noord] het 5 jaar gelede geskeur nadat my voorganger uit die NG kerk bedank het en die dag van sy afskeid het feitlik die hele kerkraad [met uitsondering van een] uit die NGK bedank . Van die 750 lidmate het ongeveer 500 die volgende week ook ‘geloop’.
Die kort en lank van die hele hartseer verhaal was dat ons [ nuwe kerkraad] vanaf 2004 finansieel geworstel het om ons verpligtinge na te kom. Dit weereens het gelukkig mee gehelp tot verskeie denkprossese en optredes. Ons het eers die pastorie en toe ons kerkgebou verkoop want almal het begin besef dat ‘n gemeente mense en nie geboue is nie.
Ons huur ons voormalige kerkgebou sondae vir erediens. Dit kos ons [ N$ 1-00] R1-00 – Ja een rand per maand.Ons huur dit terug vir die volgende tien jaar. Die nuwe eienaars het dit omskep in ‘n teater en onthaal/kongres area. Ons geniet tans die gebruik van ‘n baie mooier en beter kompleks vir ons eredienste.
Die skielike ‘wees’ sonder enige vaste eiendom was ‘n Tsunami [ iets wat ons meer dikwels in die Kerk nodig het] vir almal wat ons gedwing het om ‘n kopskuif oor gemeente wees te maak.Praat is altyd maklik, kopskuif kom eers wanneer ‘n mens begin doen het ons ondervind. Doen kom lyk my eers wanneer ‘n Katastrofe jou voluit tref.
Ons is nou in die volgende fase wat presies behels waaroor jy skryf. Ons het onsself drie jaar tyd gegee om lidmate op te lei om die predikant se bedieninge oor te kan neem. Omdat ek na die verkoop van die pastorie [ Julie 2006] na die buurdorp verskuif het het dit ook hierdie proses enorm aangehelp.
‘n Verdere proses waaraan ons werk is om met ‘n e-predikant te begin werk. Dit beteken die gebruik maak van die tegnologie om tydens eredienste en spesiale dienste ‘n diens iewers te hou [ selfs in my huis indien daar nie meer finansies oor is om my vervoer te betaal] wat ons kan beeldsend na selfs van die plattelandse gemeentes. Ons het alreeds met twee gemeentes daaroor gesels maar glo my ‘n kopskuif vra werklik waar ‘n enorme Tsunami.
Ek gaan vandag nog die kerkraad na jou webtuiste verwys en jou artikel aan hulle stuur. Hulle sal baie opgewonde daaroor wees en glo ek met nog groter entoesiasme dit aanpak waarmee ons tans reeds besig is.
Groete
Berrie Holtzhausen