Om deur my voorbeeld te lei, weet ek is doeltreffend. Die probleem is dat dit nie altyd maklik is nie. Dit het egter ‘n groot effek op my leierskap — meer as enigiets anders.
Hoekom is dit dat ek huiwerig is om deur my voorbeeld te lei? Omdat ek myself nie goed genoeg ken nie. Tolstoy het gesê: “Everyone dreams of changing humanity but no one dreams of changing himself.” Ongelukkig is dit wat nodig is as ek deur my voorbeeld wil lei.
Waarna moet ek kyk as ek deur my voorbeeld wil lei?
1. Stel die regte voorbeeld
Voor ek ander kan lei, moet ek eers myself kan lei. Ek moet my samestelling ken — karakter en oortuigings. My voorbeeld is my karakter in aksie. Ek moet myself afvra:
- Hoe dikwels dink ek oor my eie prestasie na? Hoe beïnvloed dit my span?
- Wat doen ek om my leierskapsvermoë te verbeter?
2. Lei — tree op
Eerstens moet ek vasstel wie ek lei en die kultuur waarbinne ek wil lei. Padkaarte is maar skaars; slaggate is volop. As leier moet ek hierdie slaggate identifiseer en ‘n span bou wat hierdie slaggate kan hanteer. Leiers wys die rigting aan, maar dan staan hulle terug. Die spanlede moet vir hulleself ontdek hoe om dinge gedoen te kry. Weer ‘n paar vrae wat ek myself moet afvra:
- Wat doen en om te verseker dat my mense hulle visie en missie verstaan?
- Kry ek die draadsitters se koppe gedraai — daardie ouens wat sit en wag vir iets om te gebeur?
- Hoe goed hanteer ek die slaggate?
- Hoe kan ek almal se vertroue versterk?
3. Hanteer die moeilike dinge
Soms oorweldig al die probleme vir jou. Dit is nie ‘n skande om nie te slaag nie. Wat belangrik is, is dat ek opstaan en weer veg. Sien jou spanlede dat jy dit doen, het hulle nuwe moed om jou voorbeeld te volg. Verdere vrae wat ek myself moet afvra:
- Moedig ek alternatiewe sienings aan?
- Wat doen ek as ‘n terugslag ‘n spanlid tref?
- Soek ek oplossings of iemand om te blameer?
4. Stel die span eerste
Geen leier leef in ‘n lugleegte nie. Jou span moet kan sien dat jy vir hulle omgee. Dit beteken jy berei hulle voor vir sukses. Ek moet myself afvra:
- Hoe goed hanteer ons spanning in die span?
- Is ek seker dat ek die regte mense op die regte plekke het?
- Hoe bewys ek my waardering vir my spanlede?
Ek moet deur my voorbeeld lei. Maklik? Nee. Noodsaaklik? Ja.
(oorgeneem uit Leiernuusbrief van 4 Desember 2008 – www.ekerk.co.za)