Die digitale revolusie en generasie F

By benvd

Die digitale revolusie

Mense praat meer en meer van Generasie F. Dit is die huidige geslag jongmense wat grootgeword het met die Internet. Hulle is gewillige deelnemers aan die digitale revolusie. Hulle verstaan van gesag, van kommunikasie en verhoudings verskil van diegene wat vreemdelinge op die Internet is. Die uitdaging vir die kerk is dat hy meestal pre-Internet funksioneer.

Die kerk is ‘n instelling; ons beoefen ons geloof in en deur die inrigting. Meeste kerke het reëls wat bepaal wie kan wat beoefen en wanneer. Dit word gesien as gesag wat deur die kerk gehou en uitgedeel word. Dit is ‘n belangrike veiligheidsmeganisme en kan ‘n baie positiewe ding wees. Hierdie benadering is egter teenstrydig met die verwagtings van die nuwe generasie. Generasie F het min respek vir sulke praktyke (praktyke gekoppel aan inrigtings). Hulle verkies om verby inrigtings te beweeg na ‘n direkte verhouding met God — geen middelman nie.

Die kerk staan nie alleen in hierdie dilemma nie. Kyk maar na koerante. Afgesien daarvan dat mense bang is vir redaksionele vooroordele, is daar ‘n groter probleem: koerante rapporteer die nuus wat gebeur het. Generasie F wil die nuus lees soos dit gebeur. As gevolg van Twitter, Facebook en “streaming” kan ek nuus ontvang terwyl dit gebeur. Dieselfde gaan met boeke gebeur — die tyd tussen voltooiing van die manuskrip en die publikasie van die boek is te lank.

Hoe raak dit die kerk? Hoe moet die kerk hom vir hierdie digitale revolusie voorberei.

1.  Die kerk moet die belang van kragtige prediking wat mense verander besef. Die kerk moet ‘n sisteem skep waardeur hierdie predikingsvermoë wyer beskikbaar gestel word. Hoekom moet so ‘n begaafde prediker tot een gemeente beperk word? Ons moet die geleentheid skep vir mense “om kerk by te woon” of deel te wees van ‘n geloofsgemeenskap enige tyd van die week. Om op Sondae ‘n spesifieke tyd af te sonder, is kunsmatig en beperkend. Ons idee dat ek aan ‘n gemeente behoort, dat ek my leraar gereeld in die dorp raakloop, is verouderd.

2.  Die plaaslike gemeente sal mettertyd deur ‘n netwerk vervang word — mense dwarsoor die wêreld met gemeenskaplike belangstellings. Elke netwerk het sekere “tags” wat mense in staat stel om te soek vir ‘n gemeente. Hierdie “tags” definieer die uniekheid van die netwerk. Dit kan verwys na teologie, sosiale geregtigheid of demografie.

3.  Dit het besliste implikasies vir leierskap in die kerk. Die ou model — enkele leiers en baie volgelinge — gaan vervang word met ‘n model waar volgelinge groot inspraak het in die rigting waarheen ontwikkel word. Die groei in modelle vir samewerkende leierskap is genoeg bewys vir hierdie neiging. [Die Pew Internet Research verwys na die "surging wisdom of crowds".] Die leierskap moet die omgewing skep waarbinne gesamentlike besluitneming kan gedy — en dan uit die pad kom.

Hierdie twee artikel berus grootliks op die blog van Mark Brown. Ek dink dit open nuwe perspektiewe vir ons en is baie belangrik vir elke kerkleier. Wat gaan ons hiermee doen?

(Oorgeneem uit: Ekerk Leier Nuusbrief 2009/06)

Tags: , , , ,

Leave a Reply