Identifiseer nuwe leiers

By benvd

Identifiseer nuwe leiers

Die beste speler gaan nie noodwendig die beste afrigter word nie. Suid-Afrika het twee maal die rugby wêreldbeker gewen en beide kere was die afrigter nie ‘n top speler nie. Om goed te presteer en om te lei, is twee verskillende vaardighede. Die natuurlike leier sal ons dadelik raaksien. Die geheim is om die persoon met leierskapspotensiaal raak te sien. Hoe sien ons potensiaal raak:

(1)  Leierskap in die verlede — die beste voorspeller van die toekoms is die verlede.

(2)  Die vermoë om ‘n visie te snap of te skep. As jy met iemand oor die toekoms praat, moet hy opgewonde raak. Iemand wat nie oor ‘n uitdaging opgewonde raak nie, is nie ‘n potensiële leier nie.

(3)  Konstruktiewe ongemak — ons kan dit beter doen. Leiers is altyd ongemaklik, want hulle glo daar is ‘n beter manier om dinge te doen.

(4)  Praktiese idees. Nie almal met idees is ‘n leier nie. Leiers het die vermoë om te sien watter idees prakties is.

(5)  ‘n Gewilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar. Dit lei tot bekommernis, maar die leier aanvaar dit, want die gevoel dat ek iets bereik het en bygedra het tot die ontwikkeling van ander is die kern van leierskap.

(6)  Voltooide werk. Die persoon wat ‘n probleem gryp en met hom stoei tot hy opgelos is, is ‘n potensiële leier. Dale Carnegie het gesê: “I know men in the ranks who will not stay in the ranks. Why? Because they have the ability to get things done.” Die weermag praat van voltooide stafwerk.

(7)  Geestelik sterk. Alle leiers word gekritiseer; alle leiers sal ontmoedig word. Is jy geestelik sterk genoeg om vas te byt?

(8)  Respek van medewerkers. Dit dui nie net op vermoë nie, maar ook op karakter en persoonlikheid. As jy die respek van medewerkers het, sal hulle jou volg.

(9)  Gesinsrespek. Jou gesin se gevoelens teenoor jou sê baie van jou vermoë om te lei.

(10)  Luister mense na hom. Baie mense praat baie, maar niemand luister nie. Kyk na mense na wie ander luister.

Leierskapspotensiaal is belangrik, maar karakter is selfs belangriker. As jy sien iemand het potensiaal moet jy jouself nog enkele vrae vra:

(a)  Wat sal hy doen sodat mense van hom hou? Dit is lekker as mense van jou hou, maar dit kan nooit die belangrikste faktor vir ‘n leier wees nie.

(b)  Het die persoon ‘n vernietigende swakheid? Hierdie mag iets soos ‘n obsessie wees.

(c)  Kan hierdie persoon redelike foute aanvaar?

(d)   Kan ek vir die persoon die omgewing skep waarbinne hy kan slaag? Moenie jong leiers in ‘n omgewing plaas wat hulle sal bedreig nie.

(Oorgeneem uit Ekerk Leier Nuusbrief 2009/06)

Tags: , , ,

Leave a Reply