Moet ek dan my broer oppas?
Toe Kain sy broer vermoor het, vra die Here: “Waar is jou broer Abel?” Hierop antwoord Kain: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”
Kain se vraag is eintlik ‘n stelling: “Ek is nie vir my broer verantwoordelik nie. Hy is oud genoeg om na homself om te sien.”
Predikante besef oor die algemeen dat hulle ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar het, maar in die praktyk is dit ‘n ander storie. Programme is vol en buitendien, so redeneer party, as my broer hulp nodig het, sal hy vra. En dan raak ons so besig dat daar nie tyd is om mekaar te help met self- en bedieningsontwikkeling nie. In effek sê ons daarmee: “Moet ek dan my broer oppas?” Hy is tog verantwoordelik vir sy eie ontwikkeling.
Gelukkig het Paulus nie so teenoor Timoteus opgetree nie. Hy het verantwoordelikheid aanvaar vir Timoteus se ontwikkeling as mens en as pastor. Daarvan is die Pastorale briewe vol. So byvoorbeeld moedig hy hom aan in 1 Tim 4:16 – “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin…”
Die A-Z Beleid wat deur die vorige Algemene Sinode goedgekeur is, plaas die saak van Mentorskap op die tafel van elke predikant, ring en sinode. Die saak word sterk gestel met die volgende stellings op die CD (Bedieningsvreugde met die A tot Z Beleid):
- “Van elke leraar word verwag om in ‘n mentorverhouding met ‘n kollega te staan.”
- “Die gemeente moedig die predikant aan om by die mentorprogram van die sinode in te skakel en begroot vir die uitgawes hieraan verbonde.”
- “Die ring sorg dat die beleid/voorskrifte aangaande die mentorprogram uitgevoer word.”
Sinodes is reeds tot ‘n mindere of meerdere mate betrokke by die uitrol van mentorskapprogramme vir hulle leraars. Tog het min leraars en ringe reeds ingekoop by hierdie programme. Miskien is dit vir baie ‘n nog te vreemde gedagte.
Die woord mentorskap word nie altyd reg verstaan nie. Daar is baie definisies van mentorskap, waarvan een wat my die meeste aanspreek die volgende is: “Mentors is daardie spesiale mense in ons lewens wat ons help om ons volle potensiaal as mense te bereik.”
Mentors kan predikante op baie maniere help: formeel of informeel:
- Om die kultuur en ongeskrewe reëls van die kerk beter te verstaan;
- Om makliker in te pas by die waardes en norme van die christendom;
- Om met groter selfvertroue vernuwing en groei te bestuur, asook konflikte te hanteer;
- Om gereelde terugvoer van ‘n buitestander te kry oor jouself en jou bediening;
- Om toegang te kry tot kennis, ondervinding en wysheid;
- Om te bou aan ‘n gesonde selfbeeld;
- Om nuwe leierskaps- en bestuursvaardighede te leer;
- Om potensiaal te help vrystel deur selfopgelegde beperkings te verwyder;
- Om die geleentheid te skep om ‘naïewe’ vrae sonder vrees te vra;
- Om behoeftes rondom selfsorg en ontwikkling te identifiseer en aan te spreek;
- Om persoonlike en beroepsdoelwitte daar te stel en te bereik;
- Om hoër vlakke van beroepstevredendheid te verkry deurdat daar iemand is wat vir jou sorg en omgee.
Die verhouding met ‘n mentor kan inderdaad help dat predikante met groter vreugde in die bediening sal volhard. Daarom behoort hierdie bediening verder uitgebou te word – ons moet immers mekaar oppas!.
(Hierdie artikel is geskryf deur Ben van Dyk en het verskyn in die Kerkbode van 3 Julie 2009)
Tags: A-Z Beleid, Hoe help 'n mentor, mentor, mentorskap, Moet ek dan my broer oppas, predikante