Almal van ons neem elke dag besluite. Sekere besluite is maklik; ander is ingewikkeld. Ingewikkelde besluite is gewoonlik die gevolg van:
• Onsekerheid — daar is faktore wat onbekend is.
• Kompleksiteit — baie faktore wat met mekaar verband hou, moet oorweeg word.
• Hoë-risiko gevolge — die impak van die besluit is betekenisvol.
• Alternatiewe beskikbaar — elk met sy eie stel onsekerhede en gevolge.
• Interpersoonlike sake — hoe gaan ander reageer? Hoe raak dit ander?
As ons goeie besluite wil neem moet ons ‘n sistematiese benadering tot besluitneming hê — ons moet ‘n logiese en doeltreffende proses volg. Dit verminder die risiko dat ek belangrike faktore nie in ag neem nie. Daar is natuurlik baie prosesse beskryf. Hier is een moontlikheid. Dit is ‘n proses bestaande uit ses stappe:
(1) Skep ‘n konstruktiewe omgewing
Om dit reg te kry, moet jy aandag aan die volgende gee:
• Stel ‘n doelwit — wat wil jy bereik?
• Kry konsensus oor die proses wat gevolg gaan word.
• Betrek die regte mense — is alle groepe wat deur die besluit geraak gaan word, verteenwoordig?
• Moedig almal aan om hulle menings te gee sonder vrees dat wat hulle voorstel summier verwerp gaan word.
• Maak seker jy vra die regte vrae — is dit werklik die probleem? Is dit nie dalk net ‘n simptoom van ‘n onderliggende siekte nie?
• Moedig kreatiwiteit aan — moenie ‘n idee wat jy dink onsin is, summier verwerp nie.
(2) Genereer goeie alternatiewe
Hoe meer alternatiewe jy oorweeg, hoe beter jou finale besluit. Alternatiewe oplossings dwing jou om dieper te delf in die probleem. Daar is verskeie tegnieke wat gebruik kan word. Die bekendste is “brainstorming.” [Ek hoor mense praat van harsinggallop. Mooi.]
(3) Ondersoek hierdie alternatiewe
Nou kyk jy na die uitvoerbaarheid, risiko’s en gevolge van elke alternatief. Is die risiko aanvaarbaar? Wat is die implikasies van elke alternatief? Ek hou nogal van Edward De Bono se “Six Thinking Hats.” Maak seker dat jy genoeg hulpbronne het om te implementeer.
(4) Kies die beste alternatief
Nadat jy al die alternatiewe oorweeg het, moet jy ‘n besluit neem. Soms is dit maklik, maar soms moet jy van spesifieke tegnieke soos die Nominale Groep-tegniek of die Delphi-tegniek gebruik maak.
(5) Kontroleer jou besluit
Maak seker dat jou proses deeglik was; dat jy geen stappe uitgelaat het nie. Dink veral aan dinge soos te veel vertroue (ag, ek weet wat ons moet doen) en groepdenke.
(6) Kommunikeer jou besluit en tree op
Jy moet jou besluit verduidelik aan almal wat daardeur beïnvloed mag word of diegene wat dit moet implementeer. Verduidelik hoekom jy juis hierdie alternatief gekies het. Hoe meer inligting jy gee oor moontlike voordele en risiko’s, hoe meer steun gaan jy vir jou besluit kry. Daarna moet jy implementeer.
‘n Sistematiese besluitnemingsproses lei tot beter besluite. Ons neem dikwels besluite sonder dat ons genoeg inligting het of verskillende alternatiewe oorweeg het.
(Oorgeneem uit Ekerk Leier Nuusbrief 2009/5)